Laat ons wat ’n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is ’n verterende vuur – Hebreërs 12:28-29.
Mense vertel dikwels vir mekaar wat hulle nog graag sou wou doen voordat hulle sterf. Party wil na vreemde plekke reis wat die verbeelding aangryp en waarvan die name sing. Fidji. Muscat. Öygholm. Lillesand. Sommige is bang hulle kry nooit al die boeke op hul droomlysie gelees nie. Ander wil die vreugde van aftrede langs die see of in die berge ervaar.
Wanneer my reis saam met God ’n dankbaarheidsreis is, maak dit nie saak op watter eksotiese plekke ek aandoen nie. Sodra ek God regtig raaksien in elke doodgewone oomblik, spring daar ’n vonkie vreugde in my siel op. Dan word ’n gewone oomblik ’n heilige oomblik. En ’n alledaagse plek ’n heilige plek.
Wie nie dankbaarheid in sý teenwoordigheid beleef nie, sal dit op geen ander plek of omstandigheid volkome kan vind nie.
Hoekom soek ons betekenis in eksotiese belewenisse? Hoekom is ons begeester en vol jubeling wanneer ons iets uitsonderliks ervaar? Want ons kyk met oop oë en ontvanklike harte. Ons verwág om iets buitengewoon te beleef, iets wonderskoon te hoor. En dan gebeur dit … Of nié.
Ons verwagting moet by God begin en ons dankbaarheid moet deel daarvan wees. Want ons het reeds dít ontvang waarna ons grootliks hunker: die Lewe. Wie nie vervulling in God se teenwoordigheid kry nie, sal dit nêrens kry nie.
Ons reis na wysheid is ’n dankbaarheidsreis – van God na die medemens, en terug na God.
Dankie-dankie, Here. U is die bron van wysheid én dankbaarheid. Amen.