Boodskap vir Vandag

Search

Dapper

Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing – 2 Timoteus 1:7.

Gedenkblaadjies met kort stukkies deur geliefdes is deesdae ’n redelik algemene gebruik by begrafnisse. Kortweg sê gesinslede of familie met hul woorde: Dít was hierdie persoon se nalatenskap aan my. Dít sal ek saamneem in tye wat kom.

Onlangs lees ek so ’n blaadjie. Die eienskap wat soos ’n goue draad deur al die vertellinge loop, is dapperheid: “My pa het, ondanks swaarkry, nooit moed opgegee nie.” “My man het sy broosheid omarm en ‘ja!’ gesê vir die lewe.” “My pa was ’n dapper man.”

Die Engelse woord “courage” kom van die Latynse woord cor, wat “hart” beteken. Die oorspronklike definisie van “courage” is om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel. Daarvoor moet jy die moed hê om jou onvolmaaktheid bloot te lê. So ’n mens glo dat die dinge wat hom weerloos maak, hom ook sterk maak.

Ons taak as ouers is nie om die perfekte wêreld aan ons kinders voor te hou nie. Wanneer ’n kind nooit die broos kant van ’n ouer sien nie, skep dit spanning en selfs ’n gevoel van minderwaardigheid en onsekerheid. Hy of sy wonder hoe hulle ooit so goed of so sterk of so vreesloos kan wees.

’n Jong man vertel dat hy eers as volwassene, nadat hy hom gebroke langs sy broer se graf gesien het, sy pa werklik as volledige mens leer ken het. Hy het besef dat dit ook dapperheid verg om te erken jy is broos.

Here, ek is ’n rentmeester van u krag en dapperheid. Amen.

No data was found

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.

Steek ’n kers aan

Laat jou gebed ’n liggie wees in die donker
Jou Naam *
Vir wie is hierdie kers *
Wat is jou gebedsversoek? *
Mag ander saam met jou bid? *
Laat weet ons of jy dit wil deel sodat ander saam kan bid.
Kies 'n gebed