Job het toe vir die Here gesê: “Ek is nie opgewasse teen U nie. Hoe sou ek U kon antwoord?” (Job 39:36-37).
Hoe ‘n mens soos Jo, kan bly vashou aan God, ondanks eie swakhede en sondes, word mooi uitgedruk in ‘n gedig getitel: “Desondanks.”
Die gedig lui:
dít moet jy weet
slinkse en geheimsinnige
God –
aan jou sal ek bly kleef
al het ek jou gelos
jou eer sal ek bly soek,
al leef ek elke dag in oneer
aan my sal jy nie kan
ontsnap nie
al is die ver ver land my
vaste tuiste
want jy blý my God en ek
jou verlore liefde
Die wonder van die boek Job is dat dit ons toestemming gee om maar so te bid.
En op dié manier vas te hou aan God, ondanks ons twyfel en kleingeloof.
Here, aan U sal ek vandag weer vasklou, al voel U ver en onbegryplik. Amen
Carel Anthonissen