Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: liefdevolle deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld. Die heel belangrikste wat julle moet aantrek, is die liefde. Die liefde bind alles volmaak saam – Kolossense 3:12b, 14 (Nuwe Lewende Vertaling).
Ons onthou almal selektief. Ma’s. Pa’s. Kinders. Oumas. Oupas. Vriende. Eintlik onthou ons ons gevoelens oor sekere voorvalle en mense; nie soseer die korrekte feite nie.
Dikwels laat ’n klein, vlietende gebeurtenis dwarsdeur ons lewe ’n fladdering van hartseer, pyn of vreugde in ons roer. Soms bou ons ons opvattings van iemand rondom één ervaring en vee al die ander gerieflikheidshalwe van die tafel af.
Jy onthou die keer toe die onderwyser gesê het jy is die stoutste kind in die klas, en vergeet al die opbouende opmerkings wat hy langs jou opstelle geskryf het. Jy kry steeds ’n steekpyntjie as jy dink aan ’n dierbare tannie wat eendag vir jou gesê het sy het nie nou tyd vir ginnegaap met ’n klein agie nie. Tot vandag toe voel jy gekrenk daaroor terwyl sy niks daarby bedoel het nie – en steeds ’n liewe tannie is. Ons leef so onhandig. Ons doen en sê dinge wat ons nie altyd bedoel nie, of wat ons nie besef iemand kan seermaak nie. Aan die ander kant hoor ons soms wat ons wil hoor – soos dit ons pas.
Daar is soveel wérklik slegte dinge in die lewe dat ons gerus maar die goeie in mense of situasies kan soek. En – wanneer daar ’n stekie na ons kant toe kom – laat ons dit eerder met die liefde doodleef.
Here, dankie dat liefde die antwoord op ons soeke na wysheid is. Amen.