Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit.” Die bose gees het die man stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en toe uit hom uitgegaan (Markus 1:26).
Die moderne taalkunde leer tereg dat woorde of taal nie onskuldige klanke of geluide is nie.
Nee, woorde het krag. Taal het ’n sosiale en sielkundige effek.
Dit is met hierdie perspektief in gedagte dat taalkundiges praat van ‘n taaldaad (speech act). Daarmee bedoel hulle woorde impliseer, ja, behels selfs ‘n optrede of daad met ‘n bepaalde impak en uitwerking. Hierdie uitwerking mag soms verskuil wees, maar dikwels is dit openlik en blatant.
Hoe duidelik sien ons dit nie in Jesus se gesagvolle en vars woorde nie. Sy woorde, só hoor ons in Markus 1:22, raak nie net die omstanders baie diep nie – dit dwing ‘n bose gees op sy knieë en genees ‘n siek man (Mk 1:25-27).
Omrede woorde hierdie sosiale en psigiese krag en invloed het, moet ons versigtig wees hoe ons daarmee omgaan en dit gebruik. Want woorde kan gevaarlik wees. Dit kan nie alleen, soos in Jesus se geval, ander bevry en genees nie.
Dit kan ook diep kwets, beledig en seermaak.
Here, help ons vandag om nie die krag van u en ook van ons eie woorde te onderskat nie. Gee ons woorde wat genees. Amen
Carel Anthonissen