Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak (1 Korintiërs 2:10).
Dit is goed en wel om mekaar aan die begin van ʼn nuwe jaar te troos met Jesaja se woorde dat God se stem altyd agter ons sal wees om vir ons die pad te wys wanneer ons verdwaal of koers verloor (Jes 30:21).
Maar presies hóé praat God met ons? Hóé sal ons weet dit is God wat ons lewe stuur en lei?
Natuurlik gebruik God ander mense om ons te bemoedig, selfs te vermaan, en ons só op die regte pad te hou wanneer ons treë begin wankel of ons begin dwaal. Hiervoor moet ons altyd oop, ontvanklik en dankbaar wees. Maar daar is ook ʼn ander faktor, noem dit ʼn wonderlike aanwesigheid, wie se invloed ons nooit mag vergeet of onderskat nie.
Dit is die werk van die Heilige Gees in ons binneste.
ʼn Ou kerkvader herinner ons só daaraan: “The Holy Spirit is always present, permeating our depths, enabling us to wait for God’s joy to touch the deepest part of our soul.”
Hierop, veral, moet ons in die nuwe jaar vertrou en hiervoor moet ons op die uitkyk wees.
Gees van God, wat ʼn troos dat U in ons leef, selfs al voel of weet ons dit nie. Amen.
Carel Anthonissen