Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid,
sal Hy julle in die hele waarheid lei (Johannes 16:13).
Pinkster – die fees wat die uitstorting van die Heilige Gees herdenk – is ‘n tyd om weer na te dink oor die Gees se werk.
Daar is baie skrifgedeeltes wat ons daarmee kan help. Daaronder is Johannes 14-16 beslis een van die mooistes en mees insiggewende.
Gaan lees gerus vandag weer peinsend en biddend hierdie aangrypende en diep-menslike gedeeltes waar Jesus sy verwarde en bedroefde dissipels op die koms van sy Gees voorberei.
Die rykdom daarvan sal jou verras en oneindig troos.
Die eerste wat ‘n mens oor die werk van die Gees in dié gedeelte hoor – en dit slaan op die Gees se algemene en meer oorkoepelende werk – is dat die Gees ons in die waarheid sal lei (Joh 16:13). Vroeg reeds in dié gedeelte verwys Jesus daarom ook na die Gees as die Gees van die waarheid (Joh 14:17).
Want dít is wat die Gees doen: Die Gees help die dissipels – en natuurlik ook vir ons – om in donker en verwarrende tye helderder te sien, om die doel en sin van ons lewe en van die geskiedenis, ja, die gang en bestemming van alles, beter te begryp en te peil.
Sodat ons elke dag met groter begrip en wysheid kan onderskei, leef en optree.
U sal saamstem: In ‘n kultuur waar ons siening van mense en dinge, ook van God en Jesus, vandag grootliks deur die media en ander ideologieë bepaal word – invloede wat ons meermale verwar en beroof van hoop en geloof, vreugde en vrede, het ons méér troosvolle lig en egte perspektief nodig.
Die Gees kan ons hiermee help. Jesus het dit beloof.
Kom, Heilige Gees, wys ons wat waar is in ‘n wêreld vol kennis, maar waar baie sterf in onkunde. Amen