Toe kom hy tot inkeer en sê: “My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger. Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan …” (Lukas 15:17).
Oor die eeue heen was daar altyd een groot vraag wat oor die verhaal van die sogenaamde verlore seun gehang het.
Dit is die vraag: “Wat het hom beweeg om op ‘n dag na sy Vader se huis terug te keer?”
Was dit ‘n diepliggende frustrasie met sy eie lewe wat in die ver land geleidelik gegroei en verskerp het? Of was dit sy fisiese ellende en armoede wat by die varkhokke ‘n hoogtepunt — of eerder ‘n dieptepunt — bereik het?
Dit is bekend dat sulke krisisse ‘n mens tot hernude besinning kan bring.
Tog skuil daar in hierdie verhaal ‘n dieper rede of geheim vir sy merkwaardige ommekeer. Dit staan daar tussen die reëls.
Hoe die herinnering aan die vaderhuis en die vader se behandeling van die dagloners weer geleidelik in hom wakker geword het. En daarmee saam die verlange wat uiteindelik onweerstaanbaar geword het.
Miskien lê die geheim selfs dieper, naamlik in die Gees van die Vader, sy Heilige Gees wat ook die Gees van die herinnering is – die Gees wat sy gewete bly wakker hou het en sy gedagtes onophoudelik laat terugkeer het na die huis van sy kinderdae. En na sy Vader.
Sodat dit nie anders kon nie – hy móés begin verlang, móés weer begin nadink. En uiteindelik opstaan en gaan.
Die wonder is: Hierdie Gees het jóú ook nog nooit verlaat nie. Hierdie Gees werk vandag nog in jou lewe, jou gewete, jou herinneringe, jou onrus, jou verlange.
Daarom is alles nooit hopeloos nie.
O, Here, U werk in ons, selfs al weet ons dit nie. U Gees hou die herinnering aan U steeds wakker. Hoe kan ons U vir hierdie wonder dank? Amen
Carel Anthonissen