Staan dwarsdeur die nag op en roep, stort voor die Here jou hart uit soos water, strek jou hande uit, en bid om die lewe van jou kinders – Klaagliedere 2:19a.
Gebed is die nalatenskap van toegewyde Christenouers. Dit het geen vervaldatum nie. Party gebede van voorouers vir hul nageslag word dikwels heelwat later eers waar; soms sonder dat die voorbidder dit self beleef.
Vroeg in Maart 1822 vertrek die skip Arethusa uit Engeland. Aan boord was die jong Andrew Murray as predikant op pad na Suid-Afrika. Terwyl hulle in Tafelbaai voor anker gelê het, het hy na Tafelberg en die landskap daaragter gekyk. Hy het besef dat hy waarskynlik nie weer sou terugkeer Skotland toe nie en dat Afrika sy tuiste sou word. Daar word vertel dat hy hom aan Abraham se roeping herinner het en daar op die dek gebid het dat God hom op hierdie kontinent sal seën sodat hy tot seën kan wees. Hy het ook gebid vir die vrou wat God aan hom sal gee en dat sy nageslag tot seën vir ander sal wees.
Die bekende dr Andrew Murray, skrywer en predikant van Wellington, was die tweede oudste seun van Andrew Murray die Godsman wat op die skip vir sy nageslag gebid het.
Wêreldwyd word mense steeds deur die “jong” Andrew Murray se lewe en geskrifte geïnspireer, en dwarsoor die vasteland van Afrika en elders is gehoorsame nasate van die “biddende man op die skip” lewende getuienisse van één man se gebed vir sy nageslag.
Ons kan ook gebedsvaders en -moeders wees. Ons kan die genealogie van gebed laat voortleef.
Here, maak my getrou in my gebede vir my nageslag. Amen.