Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is (Filippense 3:13).
Dit is opvallend dat Paulus na sy lewe as ʼn goeie wedloop verwys.
Maar wat het dit vir hom beteken? En wat beteken dit vandag nog vir ons?
Uit Filippense 3 is dit duidelik dat hierdie goeie wedloop vir Paulus begin het die dag toe Christus hom voorgekeer en verander het. Op daardie oomblik het sy oë oopgegaan en sy lewensprioriteite is dramaties omgekeer.
Hy het begin insien waaroor dit werklik in die lewe gaan, hoe ʼn vervulde en sinvolle lewe lyk.
Aangrypend skryf hy daaroor: Dit wat vroeër vir hom ʼn bate was – sy geleerdheid en sy kennis, sy adellike afkoms en sy roemryke prestasies, ja, al sy spreekwoordelike trofeë – het op hierdie oomblik van sy ontmoeting met Christus al hulle glans verloor (Fil 3:4-7).
Wat nou vir hom belangrik geword het, was om Christus beter te leer ken en vir sý saak te leef. Vir Paulus het dit gewoon beteken om voortaan afstand te doen van sy ydel en selfsugtige ideale en, soos sy Meester, sy lewe – ja, ál sy energie en selfs sy lewensmiddele – in diens van ander te stel. Dáárvoor sou hy hom vir die res van sy lewe inspan.
Dit was die goeie wedloop waartoe Paulus geroep is. En dit is die goeie wedloop wat ons vandag, danksy God se genade, opnuut kan aanpak.
Here, U roep ons om, soos U, ons lewe vir ander te gee en só die geheim van die lewe te ontdek. Help ons om nie weg te skram van hierdie goeie wedloop nie. Amen.
Carel Anthonissen