“Waarom het U ons uit Egipte laat trek net om in die woestyn te sterwe? Hier is nie brood en water nie, en ons is sat vir hierdie slegte kos” – Numeri 21:5.
Die Israeliete se trek deur die woestyn word gekenmerk deur sugte, klagtes en ondankbaarheid. Wanneer God hulle straf en hulle berou toon, of wanneer hulle in groot benoudheid verkeer, maak hulle geloftes aan Hom. En dan red God hulle.
In Numeri 21 lees ons van die volk se vurige gebed en gelofte. Hy red hulle uit die hand van die Kanaänitiese koning Arad, maar onmiddellik hierna kla hulle oor die slegte manna en gebrek aan water in die woestyn.
Ons kan met reg sê dis hul verdiende loon dat God giftige slange gestuur het om hulle te pik.
Maar ons doen presies dieselfde. Ons lewe ondankbare lewens. Ons mor en kla en kyk God se sorg mis. Ons sê in die verbygaan dankie vir ’n verhoorde gebed, maar ons dankbaarheid is nie deurleef nie. Ons gebede is ’n aan-en-af-knoppie wat ons self beheer. Ons skakel die knoppie net aan wanneer ons iets wil vra, maar selde om dankie te sê. Die teoloog Willie Jonker skryf: “Meermale staan ek êrens en wag op ’n straathoek, terwyl die mense met somber gesigte verby my maal. Dan wonder ek: Sou hier geen Christene in Johannesburg wees nie? Waarom kom daar dan niemand by my verby wat eg en diep gelukkig lyk nie? Is God dan nie ons Vader nie? Het ons nie alle rede om dankbaar en bly te wees nie?”
Dankbaarheid behoort ’n liggie te wees wat aanhou groen flikker.
Here, vergewe my my ondankbare lewe. Amen.