“Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” – Johannes 13:34-35.
Kerstyd is familietyd. Dit is ’n tyd om in te haal op ’n jaar se stories en saamwees wat agterweë gebly het. In ons gedagtes sien ons geselse rondom braaivleisvure, onder sonsambrele, op breë kuierstoepe. Ons troetel idilliese prentjies van luilekker dae saam met geliefdes.
In die praktyk lyk dit anders. Iemand word siek; nefies en niggies baklei oor speelgoed; ’n baba kry tande; ons vryf mekaar verkeerd op. Ons moet besef dat elkeen ’n vakansie met ’n eie stel verwagtings ingaan. Tien mense. Tien stelle verwagtings. Tallose uitdagings. Elke klein vreugde-oomblik is dus ’n bonus.
’n Groot familievakansie is soos ’n Kersboom vol liggies. Die saamwees sorg vir baldadige oortreffendetrap-ervarings. Die Kersdiens met die hele familie in een lang bank. Familiefoto’s met stralende gesigte. Die bondelkuier is nodig, want dit versterk die wete: “Ons behoort.”
Die intieme hartservarings is soos ’n enkelkers op ’n tafeltjie. Nie so opsigtelik nie, maar innig. Dit is daardie gedeelde oomblikke tussen twee mense. Skoonsusters wat saam skottelgoed was. ’n Ouma wat ’n kleinkind se hand vashou. Twee broers in diep gesprek.
Ons uitsien mag nie rondom hoofletter-oomblikke draai nie. Dit moet eerder op die vasknoop van liefdesbande gemik wees. Om dit reg te kry moet ons van ons eie wenslysies afstand doen en uitsien na dít wat ons kan bydra om saam spesiale oomblikke te skep.
Dít is wat liefde doen.
Here, ek wil my naaste-naastes liefhê en dit prakties uitleef. Amen.