Die tyd van my dood is voor die deur. Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig enduit volgehou (2 Timoteus 4:7).
Mevrou Pike, ʼn deftige Engelse dame van 90, was ʼn voorbeeld van hoe om met grasie en waardigheid oud te word.
My dogter wat “Mrs Pike”, soos sy haar genoem het, drie maande lank in Londen moes versorg, het altyd met smaak van haar eksentrieke, maar sinvolle leefstyl en roetine vertel.
Haar oggende het altyd met ʼn lekker warm koppie tee begin, in haar bed bedien. Daarna sou sy opstaan en haar rustig aantrek, of laat aantrek, in ʼn smaakvolle uitrusting wat sy self uitgekies het. Hierna was dit tuin toe, waar Bobby die janfrederik elke oggend gevoer moes word. Elfuur was dit weer tee met ʼn koekie daarby, waarna sy die kos vir middagete reggesit het.
Ná middagete sou sy die televisie vir haar daaglike program aanskakel. Dan het sy gaan rus totdat aandete gereed was. Twee maal per week sou sy bad en elke aand getrou met ʼn boek gaan inkruip, net voor die nag se lang slaap.
En só, geroetineerd en nougeset, maar met dieselfde vreugde en tevredenheid as Paulus (2 Tim 4:7), het Mrs Pike haar dae beplan en deurgebring.
My dogter het sedertdien kontak met Mrs Pike verloor, maar sy is vas oortuig dat sy ook met styl en waardigheid sou gesterf het.
Sy het haar immers goed daarop voorberei.
Here, die gedagte aan die dood maak ons beangs. Help ons om, soos Paulus en Mrs Pike, die einde van ons lewe met tevredenheid en dankbaarheid tegemoet te gaan. Amen.
Carel Anthonissen