Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en
deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood (Filippense 3:10).
‘n Seker teken dat die nuwe lewe, gewek deur Jesus se dood en opstanding, besig is om in ons lewe pos te vat, is ‘n toenemende onrus met die gevestigde orde.
Ook met ons eie lewe wat dikwels, sonder dat ons dit mooi besef, gegroef is in allerlei ongesonde en sieldodende lewenspatrone en -gewoontes.
Hierdie onrus, opgeroep deur ons deelname aan die dood en opstanding van Christus, word treffend uitgebeeld in TS Elliot se bekende gedig, “The Journey of the Magi”.
Dit gedig vertel die verhaal van ‘n klompie Oosterse konings wat, nadat hulle die tyding van Jesus se geboorte ontvang het, die reis na sy geboortedorp aanpak. Daar aangekom, ontdek hulle dat hier inderdaad sprake is van iets nuuts – ‘n nuwe geboorte, een wat terselfdertyd die koms van ‘n heel nuwe orde en leefwyse aankondig.
Terselfdertyd bemerk hulle intuïtief hoe hierdie geboorte, die belofte en aankoms van nuwe lewe, reeds die realiteit van lyding en sterwe antisipeer, asof dit nooit los daarvan kan deurbreek nie.
Hierdie vreemde paradoks is iets wat later in Jesus se dood en opstanding nog duideliker sou word. En wat die reisigers – omdat hulle nou tydens die reis deel geword het van hierdie unieke geboorteproses – met durende onrus oor hulle eie lewe sou laat.
Aangrypend verwoord Elliot hierdie gewaarwording:
“There was Birth, certainly. We had evidence no doubt. I have seen birth and death, but had thought they were different; this birth was hard and bitter agony for us, like Death, our death. We returned to our places, these Kingdoms, but no longer at ease here, in the old dispensation, with an alien people clutching their gods. I should be glad of another death.”
Die vraag is: Hoe verkleef is óns aan daardie dinge in ons lewe waarvan ons goed weet: Hulle behoort tot die ou mens, tot ‘n uitgediende orde? Hulle is nie langer goed of heilsaam vir my of vir ander nie? Ja, hoe onrustig is ek regtig daaroor? En kan ek my daarin verbly as dié dinge begin sterf en verdwyn?
Want dít sou ‘n teken kan wees dat ek, soos Paulus, Christus ken en die krag van sy opstanding ondervind (Fil 3:10).
O, Here, gee ons vandag daardie heilsame onrus wat gebore word uit die gemeenskap met U. Amen