Lees Matteus 1:23.
“En hulle sal Hom Immanuel noem” (v 23).
Kersfees is sinoniem met pakkies, Kersbome, Kersmusiek, familie en vriende. Op Kersdag reik mense na mekaar toe uit en wil vriende en familie graag bymekaar wees. Alles word afgeskaal sodat ons weer ’n slag tot verhaal kan kom – hopelik tot die regte verhaal.
Gelukkig kan ons as gelowiges vandag werklik Kersfees vier! Ons weet mos Jesus is die enigste Rede vir Kersfees. Christene kan vandag wêreldwyd in verwondering buig voor die Kindjie in die krip, die Een wat nederig en stil na ons stukkende aarde toe gekom het. Sonder trompetgeskal het Hy hier tussen ons opgedaag. Sy bed was ’n eenvoudige houtbak waaruit diere geëet het. Daar was geen rooi tapyte vir Hom oopgerol nie. Tog het hierdie Kindjie die wêreldgeskiedenis eiehandig herskryf. Sy koms het ’n nuwe era in die geskiedenis van die wêreld ingelei. Hy het die bordjies permanent verhang. Nou het die skaal ’n volle honderd persent in die rigting van God geswaai. Want Jesus is onverdunde genade in aksie. Hy is die hemelse Bewys dat God die wêreld onvoorwaardelik liefhet. Vandag nog. Ja, selfs tussen die geroesemoes van ’n wêreldse Kersfees deur.
Die Christuskind is die hart van Kersfees. Daar by die krip klop God se liefde sigbaar. Geseënde Kersfees!
Here, dankie dat U die Rede vir hierdie fees is.
Stephan Joubert