Die hoë berge is ʼn tuiste vir die klipbokke, die rotse is ʼn skuilplek vir die dassies (Psalm 104:18).
Die filosoof Martin Versfeld het lank gelede reeds gewaarsku teen ʼn soort ontwikkeling wat die natuurlike omgewing kan skend.
Daar was veral een ontwikkeling wat hom destyds baie gepla het: die besluit om paaie en brûe by die Waterfront in Kaapstad te bou. Na sy mening het dit die skoonheid van die stad en die uitsig op die see bederf.
Om sy beswaar hierteen te kenne te gee, het hy in dié tyd ʼn artikel met die interessante titel “The rights of man and the right of rocks” geskryf.
In dié artikel gee hy toe dat toekomstige ontwikkelinge noodwendig op die omgewing sal ingryp. Waarteen hy dit wel het, is dat so ʼn ingrype kru en selfsugtig kan wees, asof mense met die omgewing kan doen wat hulle wil. Tereg herinner hy ons dan dat rotse ʼn eie plek, persoonlikheid en skoonheid het. ʼn Persoonlikheid wat erken en gerespekteer moet word. In sy woorde:
“Rocks have character and individuality and answer back. I know a sandstone wall where every rock speaks out its name. Stone sparkle with a manifold difference. They also have a obstinacy. They won’t do what goes against the grain. A good mason knows that they have a will, and must be talked into their places.”
Rotse, soos die Bybel ons tereg herinner, bied ook veilige skuiling vir weerlose diere.
Here, U is die Maker van alles. Daarom het alles waarde en verdien dit ons respek. Maak ons vandag weer opmerksaam vir die regte van rotse. Amen.
Carel Anthonissen