Deur die regte woorde te gebruik, kan ‘n mens sy honger stil, kan hy genoeg kry om te eet deur wat hy sê (Spreuke 18:20).
Onlangs het ek die voorreg gehad om die digteres Antjie Krog te hoor praat oor haar nuutste bundel “Mede-wete.”
Die bundel, so hoor ek haar sê, is onder andere ‘n poging om vars taal en metafore te vind om daardie oerband wat ons as mense met alles en almal het, te herwin en te beskryf.
Tans het dié band verlore geraak. Sodat in baie kringe, so voer sy aan, woorde soos liefde, medemenslikheid, versoening en vergifnis hulle betekenis en impak verloor het.
Krog raak ‘n probleem aan, noem dit ook ‘n uitdaging, waarmee gelowiges vandag óók spook. Dit is om nuwe inhoud aan oorbekende en deels verslete begrippe te gee. Sodat wanneer mense dit hoor, dit hulle sal ontroer en hulle met nuwe gloed en energie sal wil gaan leef.
Ons teks vir die week is die bekende goue reël wat ook in meeste ander godsdienste geld, naamlik dat ons God bo alles en ons naaste soos onsself sal liefhê.
Goed so, maar wat beteken dit in ons konteks vandag?
Here, gee ons vandag weer woorde wat lewe kan verkwik en hoopvol maak. Amen
Carel Anthonissen