Josef ‘n Leviet wat op Siprus gebore is en wat deur die apostels Barnabas genoem is – dit beteken iemand wat mense moed inpraat … (Handelinge 4:36).
Die afgelope week ontdek ek die ontroerende verhaal van ‘n relatief onbekende volgeling van Jesus, te wete Barnabas.
Verrassend genoeg was dit nie sy oorspronklike naam nie.
Gebore as ‘n Jood op die eiland Siprus, het sy ouers hom aanvanklik Josef genoem. Maar dit sou alles ná sy bekering, en veral as gevolg van sy merkwaardige optrede en werk in die eerste gemeente, verander. Dáár het hy hom onderskei as iemand met die gawe om ander te help en by te staan.
Geen wonder dat hy heel gou die bynaam Barnabas gekry het nie – dit beteken letterlik “iemand wat mense moed inpraat”. Ja, só het die gemeente hom leer ken, as iemand wat altyd die positiewe gesoek en ander daartoe bemoedig het.
Op dié manier het Barnabas nie alleen baie mense ondersteun en aan hulle eie waardigheid as mense herinner nie. In die geskiedenis van die Christendom het hy ‘n belangrike brugbouer geword – iemand wat mense van uiteenlopende geaardheid en opinie bymekaar kon bring.
Jy sal saamstem: Ons samelewing het vandag dringend mense met die unieke gees en kwaliteite van Barnabas nodig!
En as Christen behoort die uitleef daarvan vanselfsprekend te wees.
O Here, help ons om waar ons beweeg nie heeltyd te kla en mense nie af te skryf nie. Gee ons ‘n positiewe instelling – soos Barnabas! Amen
Carel Anthonissen