So gaan dit met elkeen wat vat wat hom nie toekom nie: rowery kos hom sy lewe – Spreuke 1:19.
’n Dwaas lewe onnadenkend en impulsief sonder om eers die gevolge te bedink. Dikwels vang so iemand op die ingewing van die oomblik ’n dwaasheid aan.
Jeugdiges word saamgesleep en opgestook om vensters stukkend te gooi of eiendom te vernietig. Agterna, wanneer hulle mooi daaroor nadink, besef hulle die onbesonnenheid van hul optrede.
Soms word ’n mens egter stelselmatig ingekatrol in iets wat ongeoorloof is. Jakobus 1:14-15 stel dit só: “Maar ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.”
Iemand wat egbreuk pleeg, besluit nie op ’n sonnige middag om hul huweliksmaat te verkul nie. Die egbreker maak eers die deur oop vir die begeerte om in te kom en nes te maak in eie hart en gedagtes. Mettertyd groei die begeerte tot ’n dringendheid wat later alle reg en rede oorskadu.
’n Ontroue man glo later dat dit hom beskore is om sy huweliksmaat te verlaat en sy eie geluk na te jaag. Vanuit sy eie perspektief lyk dit na die regte ding om te doen. Meestal lei so ’n besluit tot groot hartseer vir die hele gesin en breër familie.
Dit is soos ’n huis wat afbrand totdat net die mure oorbly. Mettertyd word ’n nuwe huis opgebou, maar dit neem dikwels ’n hele leeftyd – en die tekens van die brand bly sigbaar in fyn krakies oral in die mure.
Here, bewaar my van selfsugtige, onnadenkende optredes. Amen.