Maak wat ek jou voorskryf jou eie, dat jy kan lewe, maak wat ek jou leer jou eie, so eie soos die appel van jou oog. Sorg dat jy dit altyd onthou, maak dit ’n deel van jou lewe. Sê vir die wysheid: “Jy is my suster,” maak die insig familie van jou – Spreuke 7:2-4.
Wanneer ons weet dat ons God se oogappel is, verstaan ons beter hoe uniek en kosbaar ons vir Hom is. Nou kan ons dié wete gaan uitleef. Dit is God se opdrag.
Die wysheid moet soos ’n geliefde huisgenoot of vriend wees met wie jy jou probleme bespreek, of soos jou suster of vertroueling met wie jy jou gedagtes en hartsgeheime deel.
Om kennis te bekom moet jy buitebronne raadpleeg. Vir ’n mens om egter álle moontlike kennis in te samel, sal die lewe heeltemal te kort wees. Daar sal net altyd nóg wees wat jy nie weet nie. Die knaende honger na kennis kan nooit versadig word nie.
Timothy Keller stel dit só in sy boek The way of wisdom: “Indien God vir ons ’n handleiding met honderd volumes sou gee waarin reëls vir wysheid in elke situasie uitgestippel word, sou ons op dié boek en ons eie toewyding staatgemaak het om wysheid te bekom. Daar sou altyd nog iets wees wat ons op ons lysie kon aftik.”
Om wysheid intiem deel van jou lewe te maak – soos die appel van jou oog – vra dat jou lewensoë oop sal wees.
Ware wysheid kom van Jesus Christus wat by ons inwoon. Hy is die Wysheid.
Here, ek wil wysheid intiem deel van my lewe maak, soos die appel van my oog. Amen.