Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle” (Lukas 15:2).
Wat egte naasteliefde beteken, sien ons waarskynlik nêrens mooier en duideliker as in die lewe en optrede van Jesus nie.
Kortliks sou ons kon sê dat Jesus regdeur sy lewe na mense uitgereik het. Dit was sy roeping, sy sending, sy groot passie.
Hy was ‘n mens vir mense, ‘n naaste vir almal.
Gedurig het hy tyd en ruimte vir ander gemaak. Moeite gedoen om hulle stories aan te hoor, hulle diepste wense en nood te verneem, hulle met sy helende woorde en liefdevolle teenwoordigheid te verkwik.
En alhoewel hy nooit onverskillig teenoor rykes en bevoorregtes was nie, was die eenvoudiges, die uitgestotenes, die gehates, die tollenaars en sondaars altyd eerste in sy visier.
By hulle sou Hy tuis voel. Aan hulle sou Hy die meeste tyd en aandag bestee. Hulle was sy witbroodjies, sy eintlike familie. Want hy het geweet: Hulle het hom die nodigste. Hulle was die verlore kudde vir wie Hy as goeie herder en besorgde geneesheer gekom het (Markus 2:13-17).
Sy voorbeeld in dié opsig is so duidelik, so ooglopend, so voor die handliggend. Tog bly baie van ons traag om dit voluit na te volg.
Waarom dít so is, bly ‘n raaisel.
Here, help ons om U vandag weer voluit op die pad van die liefde te bly volg. Amen
Carel Anthonissen