Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte (Handelinge 2:44-45).
Om vir ander te leef en só die goeie wedloop van die lewe te hardloop is nie altyd so maklik nie.
Dit verg dikwels konkrete dade waardeur ons iets van onsself, ja, selfs iets wat baie kosbaar kan wees, met ander begin deel, selfs aan ander weggee of vir hulle beskikbaar maak.
Onlangs lees ek van die bekende joernalis Johannes de Villiers wat deur die inspirasie van ʼn predikant-vriendin besluit het om ʼn maand lank elke dag iets uit sy opgegaarde besittings weg te gee. Dit was inderdaad nie aldag maklik nie, erken Johannes eerlik.
Tog was die onverwagte wins en verryking wat hieruit voortgevloei het veel meer as die skynbare verliese. In sy eie woorde: “Daar is iets ongeloofliks opgesluit in die oomblik dat jy vir iemand iets gee. Jy breek deur ʼn grens tussen jou en die ander mens en daar is skielik ʼn uitruil van menslikheid tussen julle.”
Weliswaar gebeur dié vorm van vrygewigheid nie vanself nie. In Johannes se woorde: “Dis iets wat jy moet oefen.”
Maar dit is presies waaroor dit in die goeie wedloop van die lewe gaan. Die eerste gemeente van Handelinge 2 het dit goed verstaan.
O Here, U het soveel vir ons gegee. Help ons vandag om wat ons het met ander te deel – en dit selfs weg te gee. Amen.
Carel Anthonissen