Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak (Kolossense 2:14).
Een van die belangrikste vrugte van Christus se opstanding uit die dood is dat ons nou mag leef met die vaste vertroue dat ons sonde en oortredings vergewe is.
In die woorde van Psalm 103:9-12: God dink nie eers meer daaraan nie.
Hoe min ons ook al van dié woord hou, volhard die Bybel steeds daarmee dat sonde as ‘n skeefgetrekte vorm van selfliefde ons lewe soos ‘n kanker deurtrek en ons voortdurend in ‘n staat van donkerte en dood dompel (Kol 2:13).
Maar met die verkondiging van Jesus se opstanding uit die dood, mag ons in die wete rus dat God self ons só uit die mag van die duisternis weggeruk het en ons onder die heerskappy van sy geliefde Seun gestel het (Kol 1:13). Om dan verder ook nog hiérdie troosvolle woord te hoor: “Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes” (Kol 1:14).
Prakties beteken dit dat ons nie langer by die verlede hoef vas te steek nie. Of toelaat dat vroeëre sondes of foute ons lamlê en so ons lewe of toekoms ontwrig of bederf nie.
Nee, danksy Christus mag ons vandag weer ‘n nuwe blad omslaan en met nuwe hoop en vooruitsigte gaan leef. Want, so getuig Paulus, God het ons saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het (Kol 2:13).
En dit, liewe leser, is geen Aprilgrap nie.
Here, wat ‘n verligting om te weet dat ons skuld teenoor U gedelg is en ons sondes deur U vergewe en vergeet is. Help ons om dit te bly glo en uit dié versekering ons krag in tye van versoeking te put. Amen
Carel Anthonissen