Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien, sy trou vir opeenvolgende geslagte – Psalm 103:17.
Arnold van Ruler, ’n Nederlandse Gereformeerde teoloog, het gesê: “Voordat ons kan liefhê, moet ons eers bemin word. Ons moet toelaat dat God ons liefhet. Ons moet vanuit die liefde van God leer leef.”
God se liefde is verniet. Dit is sy onverganklike geskenk aan ons. Dit lê oop en bloot op die tafel voor ons. Eers wanneer ek werklik glo dat hierdie geskenk myne is, kan ek dit optel en vir myself sê: Ek glo God het mý lief.
Waarom vertrou ek Hom dan nie? Waarom kies ek angs en toekomsvrees in plaas daarvan om te glo dat Hy – wat my liefhet – ook vir my sal sorg?
Vrees is ’n vreugdedief. Dit laat my keel toetrek en dit laat geen plek vir toekomshoop nie. Dit staan in direkte kontras met Jesus se troostende woorde aan sy ontstelde, angsbevange dissipels in Johannes 14:1: “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.” In Die Bybel in praktyk staan daar as kantaantekening by bostaande vers: “Jesus se woorde laat ons besef dat die pad na die Vader geen onsekere pad is nie. Die ewige lewe is net so ’n sekerheid as ons geloof in Jesus Christus. Die enigste onsekerheid is of ons bereid is om in Hom te glo.”
Nét God kan ons met sy volkome vreugde en vrede vervul. Hy nooi ons uit: Dit is joune! Vat dit!
Dankie, Here, dat ek die lewe in al sy volheid vind wanneer ek U, wat my oneindig liefhet, vertrou. Amen.