Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle “ ja”, daarom sê ons deur Hom “amen” aan God, tot sy eer – 2 Korintiërs 1:20 (2020-vertaling).
God is ’n waarmaker van sy Woord. Ons mag nooit aan sy beloftes twyfel nie.
Ons word daagliks met kwessies gekonfronteer waarvan ons nie die uitkoms kan voorsien nie: ons landspolitiek, droogtes, werkloosheid, toenemende afvalligheid, persoonlike krisisse.
Toe die dissipels Jesus gevra het om hulle te leer bid, was Hy oor een ding baie spesifiek: Vra die Vader in my Naam. Dit is geen geheime formule wat as waarborg dien dat ons gebede verhoor sal word nie. Nee, om in Jesus se Naam te bid beteken ’n gesindheid van afhanklikheid. ’n Oorgawe. Dit beteken ek plaas die gebed – én die gepaardgaande beloftes – in sy hande.
In LB Cowman se dagboek Strome in die dorsland verduidelik sy dat elke belofte van God op vier pilare rus: sy regverdigheid en heiligheid wat verseker dat Hy ons nie bedrieg nie; sy genade wat nié sal toelaat dat Hy vergeet nie; en sy waarheid waarvolgens Hy nougeset alles uitvoer wat Hy belowe het.
Herbert Lockyer skryf in sy boek All the promises of the Bible dat daar in die Bybel beloftes is vir omtrent elke behoefte waaraan ’n mens kan dink, of selfs nié eens dink nie. Daar is beloftes vir die lewe nóú en die lewe hierna. God sál hulle waar maak.
Ons weet nie altyd waarom God sy beloftes ’n rukkie terughou nie. Dít kan ons egter weet: Die Here is met ons hele menswees besig. En sy beloftes is gehaak aan die ewigheid.
Here, dankie vir al u oorvloedige beloftes. Amen.