Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees – Psalm 118:24.
Ons vier ’n kleinkind se verjaarsdag. Die opwinding is groot. Die koek is gebak, die kersies doodgeblaas. Ons sing “Veels geluk, liewe maatjie”. En dan is dit geskenketyd. Die dogtertjie skeur die papier van die eerste geskenk af. Dit is ’n gewone bruin boks, met die verrassing nog binne-in. Tog roep sy in ekstase uit: “’n Boks!”
Die vreugde en verwondering is spontaan en opreg. Wat binne-in die boks is, is nie ter sake nie. Sy kan die boks sien en in haar hande vashou. Dit is hare.
Dikwels is ons hart en gedagtes nie by dít wat ons nóú beleef nie. Ons berei so voor vir dít wat môre en oormôre moet gebeur. Dít wat ons nog wil bereik. Dít wat die toekoms bied. Ons staan nie by die vreugde van klein oomblikke stil nie.
’n Ma voed haar rustelose kleinding en wens die baba is groot sodat haar nagte weer rustig kan wees. Terwyl ’n ander ma haar baba voed, verkyk sy haar aan die fyn haartjies op die oorskulp, die deining van die borsie.
Die lewe is nie ’n kleedrepetisie vir môre se optrede nie. Ons is nóú op die verhoog, op hierdie einste oomblik. Ek, terwyl ek hier skryf. Jy as leser, terwyl jy hier lees.
Ons mis God se nabyheid terwyl ons bid, want ons gedagtes is nie by ons gebed nie, maar by môre se probleme of dít wat ek netnou moet doen.
Ons moet weer in verwondering kan uitroep: “Dit is ’n boks!”
Here, dankie vir hierdie oomblik. Dit is ’n geskenk uit u hand. Amen.