Toe het Abraham botter en melk en die kalf wat voorberei is,
gevat en voor die mans neergesit, en hulle het daar onder die
boom geëet terwyl hy hulle bedien het (Genesis 18:8).
In sy boek, “Report to Greco”, verhaal die skrywer, Nikos Kazantzakis, verskeie boeiende episodes uit sy lewe.
Almal is eg menslik en bevat wonderlike en kosbare lewenslesse.
So vertel hy hoe hy eendag as jongeling, omring deur die geil wingerde en olyfboorde van sy dorp, teruggestap het huis toe. Terwyl die geur van vyeblare die lug gevul het, het ‘n klein ou vroutjie met ‘n mandjie in haar hand skielik voor hom verskyn.
Toe sy hom sien, het sy gaan staan, die blare wat haar mandjie bedek het weggeskuif en twee smaaklike vye te voorskyn gehaal en na hom uitgehou.
Op sy verbaasde reaksie “Maar ken ek u?”, het sy met verwondering na hom gekyk. Toe gee sy die volgende verrassende antwoord: “Nee, my kind, jy ken my nie. Maar móét ek jou ken om iets vir jou te gee? Jy is tog ‘n mens soos ek. Is dít nie genoeg nie?”
Met dié woorde het die vrou ‘n klein laggie gegee en aangewaggel in die rigting van haar nabygeleë tuisdorp.
Of die vrou se ongewone gasvryheid daartoe bygedra het, sal ons nie weet nie. Maar vir Kazantzakis was die twee vye wat albei gedrup het van heuning die lekkerste wat hy nog ooit geëet het. En haar verfrissende woorde was een van die belangrikste lewenslesse wat hy in dié tyd geleer het.
Maande daarna het dit nog in sy gemoed gemaal: “Jy is ‘n mens soos ek. Dít is tog genoeg!”
Here, leer ons om ons oë vandag weer oop te hou vir die gawes van mense, ook eenvoudige mense van wie ons niks verwag. Amen