Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie – Psalm 121:4.
Méér as die lewenswaarhede wat filosowe, predikers en leiers deur die loop van baie eeue in geskrifte vir ons nagelaat het, is dit die lesse van gewone mense – ons pa en ma, daardie één onderwyser, ’n wyse huishulp, ’n legendariese oupagrootjie – wat ons dikwels inspireer.
Hoe ons hierdie lewenswysheid nalaat, verskil. Party lééf hul lewenslesse. Ander laat dit na deur briewe, tradisies of vermanings. Selfs deur ’n unieke manier van kyk na dinge.
Party se nalatenskap is een kort en kragtige sin, soos my ouma s’n: “Die Here slaap nie.”
Wanneer ons oor rentmeesterskap nadink, moet ons in gedagte hou dat God nie slaap nie. Hy is bekend met al ons paaie. Hy weet wat ons dink en beplan en doen en nié doen nie. Hy weet van elke verkeerde afdraai, elke bewuste of onbewuste sonde.
“Die Here slaap nie” is egter nie slegs ’n waarskuwing nie. Dit is ook ’n troostende wete. God is altyd wakker. Hy weet nie nét van ons sonde nie, maar ook van elke opregte gebed om vergifnis. Hy is altyd by ons.
“Die Here slaap nie.” Hierdie paar woorde vertel van ’n leeftyd se stap met God, van intieme saamleef met die tydlose Reisgenoot. Dit vertel van vertroue en afhanklikheid en geloof. Maar dit is ook ’n oproep om versigtig te leef, wetend dat God nie met Hom laat speel nie.
Here, dankie vir die gerusstelling dat U nooit sluimer of slaap nie. U is altyd by my. Maak my bewus van u stem wat waarsku teen die sonde. Ek wil altyd van u teenwoordigheid bewus wees. Amen.