Toe sê Jesus: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie” – Lukas 9:62.
In ons elkeen se lewe duik oomblikke op wanneer ons duidelik weet watter pad die Here wil hê ons moet inslaan. Dan mag ons nie huiwer nie. Ons moet in geloof vorentoe gaan. Sonder duidelike leiding oor ’n saak, moet ons egter eers wag. Ander kere moet ons skietgee en ’n droom laat gaan.
In ’n gesprek met ’n bejaarde vertel sy van haar lewe. Van hoogtepunte en laagtepunte. Van twyfel oor sekere lewenskeuses. Van ’n vurk in die pad wat haar lewe in ’n heel ander rigting gestuur het – die rigting wat God vir haar in gedagte gehad het.
Sy het op aandrang van haar skoolhoof aansoek gedoen vir ’n senior pos in ’n ander provinsie, ver van haar bekende omgewing en geliefdes. Sy het baie oor die saak gebid en uiteindelik bevestiging uit die Woord en gebed gekry.
Toe sy egter met die aansoekbrief in ’n koevert by die posbus staan, het sy ’n oomblik getwyfel. Is dit die regte ding om te doen? Die teksgedeelte hierbo het haar meteens bygeval. Sy het vas en seker geweet dat sy haar hand aan die ploeg moet slaan sonder om agtertoe te kyk.
Toe stoot sy die koevert deur die gleuf. Daarmee het sy haar voet op ’n nuwe geloofspad gesit. Die Here het self voor haar uitgestap, want dit was die pad wat Hy vir haar voorberei het.
Here, wys my wanneer ek ’n geloofsprong moet waag op die pad wat U vir my voorberei het. Amen.