Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus – Galasiërs 6:2.
Shiva is die Joodse gebruik om ná die dood van ’n geliefde sewe dae lank by die persoon in rou te vertoef. In stilte, terwyl jy die treurende se magteloosheid saam in die oë kyk. Sonder om raad te probeer gee of oplossings te bedink. Al wat jy doen, is om met jou teenwoordigheid te sê dat jy – deur so saam te sit – wil help dra aan die pyn. In die gees sal jy daar wees. Onbepaald.
Trevor Hudson skryf in sy boek Holy Spirit here and now ons moet in ons prestasiegerigte Westerse samelewing, waar almal op hul eie behoeftes ingestel is, doelgerig tyd aan ander afstaan. Dit moet deel van ons leefwyse word. Ons moet biddend vra dat die Here ons oë sal oopmaak en vir ons wys hoe en waar ons ander kan bedien. Dit hoef nie groot dinge te wees nie. Ons moet net fyn luister en dan gehoorsaam wees.
Soms is dit nodig om iets prakties te doen. Toe ’n bejaarde boer se getroue vriend op ’n buurplaas onverwags oorlede is, het sy eie hartseer hom so oorweldig dat hy ’n paar dae lank nie sover kon kom om oor te ry na sy buurvrou nie. Toe hy uiteindelik die moed bymekaar kon skraap, het hy sy heel grootste en mooiste pampoen uitgesoek en dit agterop sy bakkie gelaai.
Met sy aankoms het hy die pampoen in sy buurvrou se hande gesit. Al wat hy kon sê, was: “Ek het nie woorde nie. Net hierdie pampoen.”
Here, leer my hoe om ander se laste te help dra. Amen.