Die gekyf van ’n vrou is soos die gedrup uit ’n dak wat lek. Van sy ouers kan iemand ’n huis en besittings erf, maar ’n verstandige vrou is ’n geskenk van die Here – Spreuke 19:13b-14.
Vroue is geneig om oor klein goedjies te broei. Hoe langer hulle tob, hoe groter word die ongelukkigheid. Die effense krapperigheid word onvergenoegdheid en dít loop weer oor in foutvinderigheid. Niks word ontsien nie.
Om klaerig en foutvinderig te wees is ’n lewensingesteldheid. Al word elke irritasie uit die weg geruim en elke grief uitgestryk, sal daar elke keer iets nuuts opduik om oor te kla. Daarom moet die bron van die onvergenoegdheid gevind word.
Dikwels is die kern selfgesentreerdheid. Wanneer iemand slegs haar eie behoeftes raaksien, kyk sy binnetoe. Niemand anders is vir haar so belangrik soos syself nie. In plaas daarvan om die klein dingetjies raak te sien waarvoor sy dankbaar behoort te wees, merk sy elke kleinigheid op wat nie volgens haar smaak of vereistes is nie.
So iemand maak dit moeilik vir haar huisgenote. Kinders kan nie spontaan vrolik wees, uitgelate op ’n bank neerplons of speel sonder om aangepraat te word nie. Haar man word gekapittel oor alles in en om die huis wat stukkend is, ’n verflaag moet kry of reggepak moet word.
Die verandering kan nie van buite kom nie. Dit moet ’n hartsverandering wees. Sy moet weer nuut begin dink. Haar vertrekpunt moet dankbaarheid wees. Daaruit groei erkentlikheid teenoor haar huismense, en haar huis word weer ’n tuiste waar lag en liefde woon.
Here, help my om met vreugde te lewe en van my huis ’n gelukkige tuiste te maak. Amen