Wie hom laat leer, ken die pad na die lewe (Spreuke 10:17).
Onlangs reis ek saam met vriende deur die Noordweste.
Die kanse is normaalweg maar skraal dat iemand in dié oop en onherbergsame landskap sal verdwaal. Maar op ‘n dag vat sommige van ons geselskap ‘n verkeerde afdraai en beland op ‘n vreemde pad.
En daar verdwaal hulle.
Laat ek eerlik wees: Dit het die geselskap ‘n heel klompie angstige oomblikke, vermorste tyd en onnodige kilometers gekos voordat hulle weer herenig was. En toe was almal, soos die mense van daardie kontrei sal sê, nie ewe lekker vir mekaar nie. Totdat een ons herinner aan iets wat ‘n familielid eenmaal in sulke omstandighede kwyt geraak het.
Sy woorde was: “Daar nie iets is soos verdwaal nie – net ander paaie wat jy verken en waarop jy iets nuuts kan leer.”
Dié woorde het my laat nadink. Ook weer positief laat kyk na daardie tye of oomblikke wat ek self sleg gekies, koers verloor en op my lewenspad verdwaal het. Dit was beslis nie heelpad lekker nie. Maar, so vra ek my vandag af, het ek nie ook baie daaruit geleer nie? Het die afdraai- of dwaalpaaie my nie ook by insigte, plekke en mense uitgebring waar ek andersins nooit sou kom nie?
Inderdaad kan dwaalpaaie jou kosbare lesse leer.
Here, ons dwaal almal van tyd tot tyd. Maar dankie dat U altyd by ons is sodat ons dwaalpaaie dikwels ook ‘n leerskool word. Amen
Carel Anthonissen