“Julle onkundiges, hoe lank gaan julle nog vashou aan julle onkunde, gaan die grootpraters hulle pratery geniet en die swape ’n afkeer hê van kennis?” – Spreuke 1:22.
Dwaasheid, onkunde en hoogmoed staan direk teenoor wysheid. Daar is nie ’n verskoning vir enige van hierdie drie maniere van lewe nie. Hoewel ’n dwaas en ’n grootprater se optrede verskil, is hul uiteinde dieselfde.
In Spreuke word ’n dwaas beskou as iemand wat uit voeling met die werklikheid is en wat die lewe vir homself en ander moeilik – en dikwels ondraaglik – maak.
Dwase leef selfsugtig. Hulle sien dinge slegs vanuit hul eie perspektief en is die middelpunt van hul eie bestaan. Hulle sukkel om ander se standpunte in te sien. Hulle hanteer mense sonder respek en dink en doen net soos dit hulle pas.
Daarom vergelyk Christus ’n dwaas met iemand wat sy huis op sand gebou het. Toe die reën en vloedwaters kom, het die huis weggespoel. Wanneer Christus nié die fondament is waarop ons bou nie, bou ons ons huis op sand. Die een of ander tyd gaan dit wegspoel, hoe mooi dit ook al van buite mag vertoon en ander beïndruk.
Die Boodskap stel bostaande teksvers só: “Hoe lank sal julle, geestelik onvolwassenes, met julle onvolwassenheid aanhou; sal julle, ligsinniges, met ’n gelukkige lewenswandel spot; sal julle, dommes, ware kennis vertrap?” Om waarlik wys te word moet ons uit ons eie gemaksone kom en ander raaksien. Wanneer ons van onsself kan vergeet, kom ons by die wese van wysheid uit.
Here, ek wil nie in my eie klein kokon toegespin wees nie. Leer my om uit te reik en wysheid te bekom. Amen.