Soos ’n voël wat sy nes net so los, so is ’n man wat sy gesin in die steek laat – Spreuke 27:8.
In ons verbruikerskultuur gebruik ons iets tot ons eie voordeel. Sodra dit nie meer vir ons van nut is nie, raak ons daarvan ontslae of pak dit weg. In ons laaie lê ou brille, ongebruikte selfone, selfs oortollige Bybels. Klere word net een seisoen gedra.
Zygmunt Bauman, ’n bekende sosioloog, bestempel ’n verbruikerskultuur as ’n “nuuskierige” kultuur. Alles wat jy koop of beleef, moet onmiddellike voldoening gee. Jy meet jouself aan ’n bepaalde drukgroep en móét bybly. Daar is altyd nog iets nuuts om te verken, nog ’n begeerte wat bevredig moet word.
In ons selfgerigte samelewing staan die eie ek sentraal in ’n mens se besluite, ook wat betref lewenskeuses. Jy is vir niemand anders as nét jouself verantwoordelik nie. Ons hoor gereeld: “Jy is dit aan jouself verskuldig. Jy verdien dit.”
Bauman waarsku dat hierdie ontevredenheid met goedere, sodra hulle die glans van nuwigheid verloor, tot ontevredenheid met onsself lei. En dan soek ons na die volgende nuwigheid om ons weer voldoening te gee. Dié ingesteldheid is lynreg teen die opdragte uit die Bybel: “Bly getrou.” “Moenie moeg word en uitsak nie.” “Volhard tot die einde.”
Die verbruikerskultuur spoel oor na ons verhoudings. Mense doen nie moeite om vriendskappe lewend te hou nie. Hulle raak verveeld met huweliksmaats en begin uitkyk na ander opsies. Hulle vergeet: Die huwelik is heilig. Dit is ’n gelofte voor God se aangesig. Dit is nie ’n stel skoene wat jy uitskop nie.
Here, leer my om my geluk in U te vind. Maak my getrou aan my geloftes. Amen.