Julle moenie net aan julleself dink nie, julle moet ook aan die ander gelowiges dink – Filippense 2:4 (Bybel vir almal).
Meister Eckhart was daarvan oortuig dat medelye ons doelwit op ons pad van geestelike groei moet wees. Hy sê: “Die ‘ons’ is belangriker as die ‘ek’. Daarom is dit soms nodig dat my eie intieme geestelike ervaring ’n rukkie opsy moet staan wanneer iemand in nood my dringend nodig het.”
Ons is die huisgesin van Christus. Sy kerk. Sy liggaam. Ons mag nie ongevoelig teenoor mekaar staan nie. Eintlik kán ons nie, want as die een lid seerkry, voel die hele liggaam sy pyn. Ons kan mekaar doodeenvoudig nie ignoreer sonder om self seer te kry nie.
Daar is deesdae ’n groot beweging om jouself te koester en te bemagtig. Dit het ook na die kerk oorgespoel, waar baie klem op individuele persoonlike geloofservarings gelê word. Ons woon stilnaweke, retraites en kursusse by om onsself te ontdek en te verryk.
Dit is reg om in ons moderne gejaagde samelewing stil te word en selfondersoek te doen. Ons móét onsself vind en weet waarheen ons met ons lewe en verhouding met Christus op pad is.
Ons mag egter nie van ons medereisigers vergeet nie. Die gevaar bestaan dat ons mense naby aan ons verwaarloos en selfs hul nood miskyk in ons eie soeke na geestelike verryking. Ons vergeet dat ons “verstop” wanneer ons slegs inneem. Ons moet ons arms oopgooi en ander met ons liefde en erbarming aanraak.
Christus se opdrag was duidelik: “Moenie net aan jouself dink nie.”
Here, ek wil erbarmend lewe. Help my. Amen.