“Uit eerbied vir jou God moet jy eerbied bewys aan oumense en hulle met respek behandel. Ek is die Here” – Levitikus 19:32.
Om eerbied aan ouer mense te bewys vra dat jy hul menswees sal erken en hulle sal eer vir wie hulle is.
My ma het as bejaarde vrou gereeld wanneer hulle by ons kom kuier het, ’n klompie resepte saamgebring. Terwyl ek kos maak, het sy by my gestaan, belangstellend uitgevra en my aangemoedig.
Sy het egter nooit gevra of sy een van haar resepte kan maak nie. En ek het nooit gevra of sy graag wou nie, want ek wou haar laat rus. By haar eie huis kook sy immers elke dag!
Een middag vertel ek haar van iemand wat saans voor slaaptyd resepteboeke vir pure lekkerte lees. Toe antwoord sy: “Ek ook.”
Ek was hartseer. Ek het dit nooit geweet nie.
Wanneer ons ouers bloot as mense sien wat ’n bepaalde rol vervul, word hulle maklik stereotipes. Óns besluit sommer wat vir hulle goed is en wat nie. Ons reken dat ons in hul beste belang optree. In der waarheid ontneem ons hulle die kans om self insette te gee en ’n bydrae te maak. Ons dra by tot hul leë gevoel van “funksieverlies”.
Terwyl ons ouers nog sinvolle besluite kan neem en hul behoeftes kan uitspel, moet ons die moeite doen om vas te stel wat hulle hartseer, bly of angstig maak. Dit laat hulle menswaardig en gewaardeer voel.
Dan verstaan ons watter hunkering agter ’n resep in ’n bejaarde ma se hand is.
Here, wys my hoe ek my ouers en geliefdes werklik as mense kan leer ken. Amen.