Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie – Kolossense 3:19.
Soms kom ’n vrou se voortdurende gekla en gekerm uit ’n gevoel van algehele onmag. Sy ervaar dat niemand haar werklik hoor of raaksien nie. Sy bedien haar gesin met liefde en kos en aandag. Sy probeer in elkeen se behoeftes voorsien, maar kry nie erkenning vir haar opofferings nie. Sy voel dat sy vanselfsprekend geword het, net soos ’n warm bed, ’n bord kos en ’n voordeur wat saans dig agter almal sluit. Haar grootste wens is waarskynlik nie om geprys te word, of om agteroor te kan sit terwyl haar gesinslede die huistake verrig nie. Sy begeer net om te hoor: “Dankie, ons sien wat jy vir ons doen.”
’n Ma met ’n spannetjie seuns vertel sy het een goeie dag besluit dat sy dit nie langer sou verduur om geïgnoreer te word nie. Sy het by hul dorp se brandweer ’n helm, oorpak en stewels gaan leen. Laatmiddag het sy haar man en seuns met die tuinslang ingewag, die kraan wyd oopgedraai en hulle ordentlik natgespuit. Hulle was stomgeslaan. Sy het hul onverdeelde aandag gehad. Hulle het haar gesien en gehoor. Nou kon sy haar eie behoeftes duidelik vir haar gesin uitspel.
Wanneer jy in die huwelik jou maat se menswees erken, kyk jy met waardering na dít wat jou maat doen. Jy aanvaar die dinge wat hy of sy bydra nie sommer net as vanselfsprekend nie. Jou lewensmaat voel dit aan en voel raakgesien en raakgehoor. Én gelief.
Here, help my om met ’n hart vol waardering te leef. Amen.