Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome, soos hoë seders op die Libanon. Hulle vind hulle krag in die huis van die Here en groei op in die tempel van ons God – Psalm 92:13-14.
Palmbome in die woestyn se wortels is vlak, al rondom die stam, sodat dit elke bietjie vog kan opvang. Boonop groei die palmbome gewoonlik naby ’n waterbron en sorg vir koelte en beskutting teen woestynwinde.
God sê dat die regverdige soos ’n palmboom sal wees. Wie is dié regverdige na wie talle kere in die Bybel verwys word?
Dit is die persoon wat daarna strewe om reg te doen. Om liefde te bewys, bedagsaam en opreg te lewe, eerbaar en getrou en billik te wees. Hulle vind hul krag in die huis van die Here.
Hoe vaster die regverdige geanker word, hoe meer kan hulle koelte en skuiling bied aan dié wat in hul skadu kom vertoef. Terselfdertyd wéét die persoon: Ek is afhanklik van God. Ek is nie van woestyntye gevrywaar nie.
Jesaja 61:3 beskryf die regverdige só: “Hulle sal genoem word: Bome van Redding.” Die Here het hulle geplant om sy roem te vermeerder. Dit gaan nie oor hulleself en hul eie roem en eer nie, maar oor die Here.
Dankie, Here, dat regverdiges sterk palmbome is wat in stormwind en in die dorre woestyn bly staan. Ek wil my krag uit u teenwoordigheid put. Amen.