Hy self het egter ’n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder ’n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie” – 1 Konings 19:4.
Dikwels nadat ’n godvresende persoon ’n groot geestelike ervaring beleef het, word hy deur ’n neerdrukkende gevoel oorweldig. Dit is asof al sy geestesenergie deur die intense geloofsbelewenis opgesuig is. Hy is geestelik uitgeput.
Elia het dit ná sy geloofkragtoer beleef toe hy op die berg Karmel gebid het. God het vuur uit die hemel gestuur wat sy offer, asook die altaar, voor die oë van die volk en die spottende Baälpriesters verswelg het. Daarna het Elia al die priesters laat doodmaak. Hy was so terneergedruk dat hy in die woestyn onder ’n besembos gaan sit het. Hy het gesmeek dat God hom eerder moet laat sterf.
Hier in die woestyn, alleen en lewensmoeg, het God Elia ontmoet en gesê hy moet opstaan en eet sodat hy krag kan kry.
Ons vlug soms so ver moontlik van dít wat ons bedreig. Ons wil alles agterlaat wat pyn en swaarkry veroorsaak. Daarom ontvlug ons na ons eie binnewoestyn.
God is egter ook in ons woestyn. Hy wag op ons. Indien ons stil genoeg word om sy stem te kan hoor, kan ons woestyntye ontmoetingstye met Hom word.
Here, al vlug ek tot in die ongenaakbare woestyn weet ek dat U daar is en my wil ontmoet. U wil my ophelp en voed sodat ek krag vir my reis vorentoe kan kry. Dankie vir daardie versekering. Amen.