Julle behoort aan Christus en Hy maak julle geloof sterk. Julle is lief vir mekaar en julle help mekaar. Julle almal het die Heilige Gees in julle harte en daarom behoort julle aan mekaar. Julle is bekommerd oor mekaar en julle sorg vir mekaar – Filippense 2:1 (Bybel vir almal).
Die woord wat dikwels die verval van ’n verhouding of huwelik beskryf, is “verbrokkel”. Dít sê iets van ’n geleidelike proses. ’n Muur wat vroeër sterk en solied was, begin stadig maar seker verweer. Klein stukkies sement kom los. Dan ’n stuk pleister, en daarna ’n hele baksteen.
Lewenslange vriendskappe of verhoudings begin gewoonlik klein en vol belofte. Dit groei en blom. Soms aanvaar die mense mekaar geleidelik as vanselfsprekend. Hulle doen nie die moeite om regtig by mekaar se hart uit te kom nie. Dan begin klein irritasies inkruip. Eers klein verwyte of ’n geniepsige antwoord, dan openlike seermaakwoorde en uiteindelik eindelose woordewisselings.
’n Egpaar wat reeds langer as twee dekades getroud is, sit elke Sondagaand opsy om te gesels oor die afgelope week. Hulle vra vir mekaar: “Wat het ek hierdie week gedoen wat jou baie bly gemaak het? Wat het jou ongelukkig of hartseer gemaak? Wat kan ek doen om die nuwe week vir jou beter te maak?”
Aan die einde van hul gesprek mag elkeen iets versoek wat nie deel van sy of haar tuispligte is nie. Die vrou kan dalk vra of die man een oggend die kinders sal skool toe neem. Die man kan vra of sy vrou die vuilgoeddrom sal uitsit.
Terwyl jy jou maat met deernis en liefde bedien, word jy self daarmee gevoed.
Here, skenk my u deernis en liefde. Amen.