Dit gaan altyd sleg met ’n bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is ’n fees – Spreuke 15:15.
Dit is ’n gloeiende warm dag in die Kaap. Die son staan letterlik stil bokant ons. My voordeurklokkie lui. Dit is ’n vrou wat besems en stoffers verkoop, met die mooi naam Anastasia. Haar skouers is waterpas. Haar glimlag skitterwit.
Ek bedank haar, maar het geen nut vir ekstra besems nie. Sy pak haar goedjies met ’n glimlag op en wens my ’n mooi dag toe. Terug in die huis bedink ek my. Ek roep agter haar aan waar sy met ligte tred wegstap.
“Wat van koue koeldrank of yswater vir die pad?” Sy is oorstelp van dankbaarheid.
Met die groetslag vra ek of dit nie baie erg is om so in die hitte op en af in die strate te stap nie. Sy antwoord: “Wanneer jy gelukkig is, voel jy nie die son op jou kop nie.”
Sommige mense sal sê: “Positiewe denke gaan geen verskil aan my situasie maak nie. Hoekom moet ek maak asof dit goed gaan? Ek sal eerder realisties wees en my omstandighede in die oë kyk.”
Ons gevoel van geluk of ongeluk het meer met ons ingesteldheid as met ons omstandighede te doen. Dikwels kan ons nie veel aan ons situasie verander nie. Ons kan egter wel besluit met watter lewenshouding ons ons uitdagings gaan aanpak.
Negatiewe denke beroof ’n mens van die krag wat jy nodig het om jou situasie te oorkom. Positiewe, lewensblye mense – wat boonop hul vertroue in God plaas – weet dat die bron van hul krag onuitputlik is.
Here, ek wil met ’n bly hart lewe. Help my. Amen.