Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg. (Matteus 4:19-20)
Onlangs deel ‘n bekende en invloedryke Metodiste-predikant sy gemeente en vriende mee dat hy besluit het om hulle vir ‘n ander gemeente te verlaat.
Hulle is ietwat verbaas oor sy besluit.
Want behalwe dat sy bediening by hulle relatief kort was, beteken sy keuse die prysgawe van ‘n uiters bevoorregte posisie in ‘n bekende en vooraanstaande stedelike gemeente vir ‘n veel meer beskeie en selfs armer opsie. Sy besluit sal hom naamlik na ‘n gemeente in die afgesonderde platteland van die Transkei, met min hulpbronne en weinig kanse vir groot aansien, invloed of gerief voer.
En tog is dit die leraar se oortuiging dat sy Heer en Meester hom op hierdie stadium van sy lewe dáár wil hê, dat dié skuif nou sy roeping is – en dat hy daaraan gehoorsaam moet wees, sy Heer daarmee moet vertrou.
Pragtig druk hy sy geloof en vertroue uit: “Ek weet nie presies waarheen ek gaan nie. Ek weet ook nie wat daar gaan gebeur nie. Ek weet wel wié my geroep het. En dit is genoeg.”
Sy woorde het my diep geraak, selfs beskaam. Want wie van ons verstaan of praat nog hierdie taal van roeping, sien ons lewe as ‘n lewe wat onder die gesag en aanspraak van ‘n God staan?
Sodat ons bereid sal wees om die bykans absurd te doen: alles – ons voorregte, gerief en invloed – prys te gee wanneer God ons elders wil hê.
Bloot omdat ons dié God ken en resloos vertrou.
O Here, dankie vir wie U is – ‘n God van getroue liefde en sorg. Help my om dit vandag weer te glo. Amen
Carel Anthonissen