Van U sê my hart: Soek my aangesig! Ek soek u aangesig, o Here! Verberg u aangesig nie vir my nie – Psalm 27:8-9a (1933/1953-vertaling).
Die vroegoggendtoneeltjie wat in die vorige dagstukkie geskets word, is vir ons bekend. Ons het almal al ervaar hoe kinders se woede en geniepsigheid die vreugde en vrede uit ’n vertrek verjaag. Veral wanneer ’n ouer pas intieme, kosbare tyd by God deurgebring het.
Ann Voskamp beskryf haar magteloosheid: “It’s my own face that obscures the face of God. How can I help this son of mine see when I can’t see?” Sy het nie antwoorde nie.
Dan kom Dawid se smeekroep uit Psalm 27 in haar gedagtes op: “Ek soek u aangesig, o Here! Verberg u aangesig nie vir my nie.” Sy besef haar diepste begeerte is om God te kan sien. Haar eie woede verberg God se aangesig. Die alternatief is liefde.
Haar gebed is ’n fluistering, maar hard genoeg vir haar seuns om te hoor. Sy dank God vir haar twee seuns. Sy dank Hom ook vir die hier en nou. Sy bid verder: “Thank you that You don’t leave us in our mess. Thank You for toast. For the hope of forgiveness and brothers and new mercies.”
Dit is die beginpunt van die herstel in die verhouding tussen die twee broers. Dit gebeur nie oornag nie, maar omdat ’n ma gekies het om God in die situasie en die gesigte van die kinders oorkant haar te sien het hulle self ook daarna begin soek, hoewel skoorvoetend en skaam.
Here, ek soek U met my hele hart. Ek soek U in elke situasie en elke persoon wat my pad kruis. Amen.