Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot – Klaagliedere 3:21-23.
’n Kankerpasiënt stuur vir my ’n e-pos: “Elke liewe keer as ek die son sien opkom, vul dit my met hoop. Ek weet: Dit gaan altyd weer lig word – wat ook al met my gebeur. Dít wat jou aftrek, is nooit staties nie. Ons is deel van die ewigdurende ritme en ons moet ons in ’n sin oorgee daaraan, sonder om ons passief deur omstandighede te laat meesleur.”
Ek lees weer die bekende woorde van Psalm 19:2-5: “Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag deel die kennis aan die volgende mee. Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hulle stem. Tog gaan daarvan ’n boodskap uit oor die hele wêreld en hulle taal bereik die uithoeke van die aarde. Vir die son is daar in die hemel ’n tent opgeslaan.”
Hierdie woordelose boodskap weerklink dwarsdeur die heelal, ál verder – weer en weer – tot by ons. Dit gee nuwe betekenis aan ons dae en maak ons ontvanklik om tekens van God se goedheid en sy teenwoordigheid in die natuur en klein alledaagshede raak te sien. Wanneer dít ons ingesteldheid is, word selfs ’n flertsie groen langs ’n snelweg ’n boodskap van hoop.
Here, help my om u boodskap van hoop raak te sien en ’n hoopgewer vir ander te wees. Amen.