Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se knieë knik, sê vir dié wat moed verloor het: “Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier” – Jesaja 35:3-4a.
Ek sien onlangs ’n foto van ’n standbeeld met ’n paar hasies op ’n betonvoetstuk. By die voetenent staan ’n klein bronshasie, sy voorpootjies op die basis waarop die ander staan. Agter die hasie staan ’n peuter – skaars hoër as die voetstuk – wat die hasie probeer oplig.
Van nature wil ons ander help. Wanneer iemand struikel, steek ’n omstander onwillekeurig sy arm uit om te keer dat die persoon val. Wanneer ’n ma sukkel om ’n babawaentjie by ’n winkeldeur uit te stoot, bied iemand hulp aan.
Ons opdrag is om mekaar te ondersteun. Dit is ons voorreg as volgelinge van Christus. Ons moet na mekaar omsien. Soggens kan ons gebed gerus wees: “Here, vir wie kan ek vandag ’n Aäron of ’n Hur wees?”
Jare gelede het ’n student aan die antropoloog Margaret Mead gevra wat sy reken die eerste bewys van beskawing was. Die student het verwag sy sou kleipotte of klipwerktuie of pylpunte sê.
Mead het egter geantwoord dat dit vir haar die ontdekking van ’n menslike geraamte met ’n gebreekte femur was wat genees het. Sy het verduidelik dat ’n gebreekte femur in die diereryk die dier se dood beteken. Hy kan nie self kos soek of vir gevaar weghardloop nie. ’n Gebreekte femur wat herstel het, beteken dus dat iemand die beseerde na veiligheid moes gedra en versorg het totdat die been aangegroei het.
Beskawing begin daar waar ons iemand help, so ook praktiese Christenskap.
Here, maak my oë oop vir mense in nood. Amen.