Presies gelyk, soos een man, het die trompetblasers en die sangers die lof en dank aan die Here laat weerklink. Die klank van trompette, simbale, allerhande instrumente en die loflied ter ere van die Here het opgeklink: “Want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Op daardie oomblik het ’n wolk die huis van die Here gevul – 2 Kronieke 5:13.
God is ’n God van harmonie. Daarom is die Bybel vol musiek. Met die inwyding van die tempel het die tempelsangers en orkes lofliedere laat weerklink. ’n Wolk het die tempel gevul, die teken dat God self teenwoordig was.
In Nuala O’Faolain se outobiografie Are you somebody? vertel sy van ’n besondere belewenis waartydens die ensemble die kwartet “Mir ist so wunderbar” uit die opera Fidelio gesing het. Die stemme het in perfekte harmonie ineengevloei terwyl elke sanger skynbaar op sy of haar eie stemparty fokus.
Sy het aan haar vriend gevra hoekom die ensemble-sang so ontroerend is. Hy het geantwoord: “People would be like that if they could.” Dié woorde het haar laat verlang na ’n perfekte samelewing waar almal vreesloos en vrylik kan kommunikeer, presies soos wanneer mense in harmonie saamsing.
In elke onvolmaakte verhouding of situasie is daar ’n volmaakte prentjie waarna gestrewe word. In ons gebrokenheid probeer ons nader aan die ideale prentjie beweeg. Ons reik na harmonie, samehorigheid en ewewig.
Dawid se tempelsangers was gewone mense soos ons, sondaars wat met oorgawe ’n volmaakte God se lof besing het. Ons lewe is ook ’n lied. In ons onvolmaaktheid sing ons: Aan sy liefde is daar geen einde nie.
Dankie vir u liefde, Here. Ons hef ons loflied op na U. Amen.