Hou ’n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in jou mag is om dit te doen nie – Spreuke 3:27 (1933/1953-vertaling).
Eers wanneer ek iets van God se absolute goddelike almag verstaan, begin ek verstaan wie ek is, en wie ander is. Ekself skuif uit fokus en ander mense en hul belange kom staan helder voor my. Ek kan nou oorleun na hulle toe en hulle bedien.
Iemand wat graag uitdeel en na ander omsien, voel dikwels ongemaklik daarmee om self dank en erkenning te ontvang. Ek moet egter besef dat ander Christene ook aan my wil goeddoen. Ander wil ook in my groot oomblikke deel. Ek mag nie hul vreugde demp nie. Ons is almal kinders van God wat mekaar se arms moet versterk. Dit is ’n voorreg. Ek moet uit my hart kan sê: “Dankie!”
Ons moet let op Psalm 115:1 (Die Boodskap): “Dit is nie ons mense wat eer moet kry nie, Here! Ek wil dit herhaal: Nie ons nie, maar U alleen verdien eer.”
’n Predikant wat 30 jaar in ’n gemeente was, ontvang met sy afskeid ’n pragskildery van die kerkgebou met die handtekeninge van die kerkraadslede onderaan. Boaan die skildery is ’n afskeidsbrief waarin sy uitsonderlike menswees en gemeentediens aan die gemeente beskryf word. Dié Godsman ontvang die lof met grasie en nederige erkentlikheid.
Ná sy dood ontdek sy kinders die skildery agterin sy studeerkamerkas. Dit was nie vir hom nodig om dit teen sy muur op te hang nie. Hy het geweet dat die eer God toekom.
Here, help my om ander se hulp en erkentlikheid met grasie te ontvang omdat ek weet dat dit aan U behoort. Amen.