Sing die lof van jou eie fontein, verheug jou oor jou eie vrou, so vol liefde, so mooi soos ’n takbok, soos ’n ribbok – Spreuke 5:18-19.
Ons liefde moet tuis begin. By ons huweliksmaat.
Die grootste geskenk wat ’n pa vir sy kinders kan gee, is om hul ma lief te hê. Gesonde gesinsverhoudings begin by ouers se liefde en respek vir mekaar. Kinders moet getuies van daardie liefde wees. Om die liefde tussen twee ouers te ervaar bied vir die kinders sekuriteit. Dit word hul beskutting teen die wêreld daarbuite.
Die digter GA Watermeyer verwoord dit so: “Vier mure teen die Suidewind – my swartoogvrou, my blondhaarkind.”
Die woorde dra ’n gevoel van behoort. En geborgenheid. Van veilig en versorg wees.
’n Gesin is ’n herberg van menslikheid, lees ek êrens. Wanneer jy deur die liefde beskut en gekoester word, word jou gesin jou vier mure teen die suidewind.
Dit kom egter nie vanself nie. In die klein Saterdagoggend-ritueel van huweliksmaats se saam teedrink en koerant lees, lê ’n tydlose toegeneentheid wat ’n holderstebolder week se sorge kleiner laat lyk. Dit skep die ruimte om te luister en te deel – en om ook die geheime onuitgesproke versugtinge, die gevoelens wat saam met die woorde loop, raak te hoor.
Dikwels kry my huweliksmaat die krummels oorskiet van my tyd en energie. En dikwels ook van my liefde. Want hy ken my mos, en by hom hoef ek geen front voor te hou nie.
Juis hiér klop die liefdesgebod sterk en dringend. Ek hoor die reëlmaat daarvan in elke aanspraak op my: Julle moet mekaar liefhê.
Here, dankie vir die helder fontein van liefde. Amen.