Die woorde van die regverdige is die fynste silwer werd; die gedagtes van die goddelose is min werd – Spreuke 10:20.
Silwer is al sedert antieke tye bekend en word eeue lank reeds vir die maak van ornamente, juweliersware en gehalte-eetgerei gebruik. In die Bybel is silwer dikwels ’n simbool van iets wat besonder waardevol is. Silwer is kosbaar en gesog as edelmetaal. Ek lees dat een korrel silwer van ongeveer 65 mg tot 150 keer dunner as ’n gemiddelde vel papier uitgerol kan word. Dit word op ’n spesiale skaal geweeg wat gekalibreer is om die kleinste verskil in gewig te registreer.
Wanneer ons dít besef, kry die teksvers hierbo ekstra betekenis. Die regverdige se woorde is “die fynste silwer werd” – edel, kosbaar en keurig. Ons wéét ’n wyse persoon se woorde is weldeurdag en fyn afgemeet. Dit kom dikwels uit ’n plek van loutering en swaarkry, waar dit in die vuur deur die Groot Silwersmid gesmelt en gesuiwer is totdat al die onsuiwerhede uitgebrand het.
In die Nuwe Lewende Vertaling klink Spreuke 17:3 só: “Silwer word in vuur gesuiwer en goud in ’n oond. Maar die Here toets die hart van ’n mens.”
Die Spreukedigter stel die regverdige se woorde aan die fynste silwer gelyk. Daar kom egter nog iets by: Die Here toets die hart. God toets die bron waaruit ons woorde spruit, naamlik die hart. Ons hartsgesindheid bepaal die opregtheid van al ons keurige fyn woorde. Dít is die grootste toets.
Here, gee my ’n opregte hart en maak my woorde soos fyn silwer wat dun uitgerol en afgemeet is, tot seën vir elkeen wat dit hoor. Amen.