’n Geduldige mens het meer waarde as ’n bedrewe vegter, ’n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ’n stad inneem – Spreuke 16:32.
’n Driejarige dogtertjie ruk en pluk terwyl sy die omhulsel van haar nuwe speelding probeer loskry. “’n Dogtertjie soos jy weet dit help nie om kwaad te word nie,” sê haar ma rustig. Ek hoor God se stem: “Wees geduldig, my kind. Moenie ruk en pluk nie. Die oplossing sal kom.”
“Moenie so gou kwaad word nie!” vermaan ’n pa sy opvlieënde tienerseun. Ek hoor God se stem in Prediker 7:9: “Moenie gou kwaad word nie: dit is ’n dwaas wat gou kwaad word.”
Spreuke 14:29 waarsku: “’n Geduldige mens is baie verstandig; een wat kort van draad is, stel sy dwaasheid ten toon.”
Dwarsdeur die Bybel word ons teen woede en die gevolge daarvan gemaan. Reeds in Genesis 4:6-7 lees ons: “Toe sê die Here vir Kain: ‘Waarom is jy kwaad? Waarom is jy bedruk? Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie? As jy nie goed doen nie – die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers.’”
Twee verse verder lees ons dat Kain sy broer Abel in ’n woedebui doodgemaak het. Dit is dus met goeie rede dat ons gemaan word om nie kwaad te word nie. Onbeteuelde woede kan tot groot vergrype en hartseer gevolge lei.
God bied aan Kain die alternatief vir woede: Jy moet oor hom heers.
Here, help my om my woede te beteuel. Amen.